Gaan dit in ander huise ook so?

Wil my ma redelik gereeld by ons weet. Nee, ek weet nie. Maar dat hierdie huishouding baie spesiaal is, daarvan is ek baie seker.

Hierdie vraag word natuurlik meer gereeld tydens huisvergaderings gevra. Hierdie vergaderings het gewoonlik sy bestaan te wyte aan die verdwyning van ‘n tjop uit die pot uit. Of wanneer een van die karre se sleutels weg is. Of wanneer my pa se valstande (weer) soek is. En soms word daar van ons verwag om in sitting te bly totdat die tjopdief uiteindelik skuld erken het, iets wat baie selde gebeur. Dis teen diè tyd ook algemeen bekend en aanvaar dat

Onlangse gesinsfoto's, geneem deur die talentvolle jong fotograaf, Nielen Bottomley, wat ook op 'n stadium 'n housemate was.

Onlangse gesinsfoto's, geneem deur die talentvolle jong fotograaf, Nielen Bottomley, wat ook op 'n stadium 'n housemate was.

daar nog iemand saam met ons in die huis bly, waarvan die identiteit op hierdie stadium nog onbekend is. Wie anders sal dan die leë waterbottels terugsit in die yskas. Of altyd die kaas opeet (want tegnies, as jy die laaste stukkie geëet het, het jy dit mos opgeëet). Of durf om daardie sjokolade te eet wat my ma vir haar verjaarsdag gekry het. Of die wyn gedrink het wat sy by die Moslem vrou by die werk gekry het.

Onlangs het ons die grootste vergadering nog saamgeroep. Want, om 2 tesis-tikkende dogters terug in die huis te hê, is ‘n uitdaging, om die minste daarvan te sê. Sien, nie net het hierdie huisvergadering ‘n agenda gehad nie, maar ook het elkeen met die aanvang van die vergadering die agenda swart-op-wit gekry. Met nie minder nie as 20 punte vir bespreking. Ek wil julle nie met die aaklige detail verveel nie, maar net ‘n paar enkeles noem: #7 Sleutelbeheer. Dit het basies ‘n kort werkswinkel ingesluit van watter sleutels watter karre oopsluit, watter vensters van watter karre nie werk nie, watter hekke elke aand gesluit moet word…en ook wat presies met jou gaan gebeur as jy skuldig bevind sal word aan die verdwyning van so ‘n sleutel. #11 Teesakkies hergebruik. Ons is nou wel nie in die hongergeteisterde horing van Afrika nie (die gesamentlike massa van ons gesin sal sterk getuienis hier lewer), maar my ouers het in die depressiejare grootgeword. En mens kan nie teesakkies weggooi nie. Inteendeel, jy kan nie eers daaraan dink om dit net een keer te gebruik nie. So voordat jy nou wil terugsit met jou koppie tee, moet jy eers seker maak die teesakkie is in ‘n koppie vir hergebruik (moenie worry nie, gaste kry elkeen hulle eie sakkie, so julle kan gerus kom kuier). Nadat ‘n teesakkie deur rondte 2 is, word dit in ‘n ander houer geplaas waar daar dan paraffien oor gegooi word, en dit dan gedroog word. Wie het nou vuuraanstekers nodig?! # 19 Stort, nie bad nie. Ek en Rezel is elkeen ‘n verwelkomingsweek gegun, waarin ons kon bad. Hierna is die krane toegedraai, en is ons tot ‘n (kort) stort beperk in die toekoms. Water is skaars, en Eskom is ‘n bitch (diabetes ook, maar dit weet ons almal).

So van diabetes gepraat…so kry ma, pa, en die 2 tesis-tikkende dogters elkeen ‘n kosbeurt een keer per week. Wat natuurlik tot groot vermaak vir almal sorg, omdat my pa kwansuis elke week dreig om pasteie te koop, en ons dan moet boereworsrolle verras (seker omdat hy so graag wil boer). Wat ‘n verdere uitdaging is, is die klein vegetariese projekkie wat ek en Rezel geloods het, waarin ons kyk hoe ver ons in ons kosbeurte van rooivleis kan wegbly. Dit word natuurlik nie altyd met ope arms verwelkom nie, nie in die ‘plek van die vleisvreters’ nie.

Ons vermoed my pa leer sy truuks by die kinders in sy skool - in die Parow in.

Ons vermoed my pa leer sy truuks by die kinders in sy skool - in die Parow in.

En so het dit al ‘n hele paar keer die afgelope maand gebeur dat ek net eenvoudig dink ek het verkeerd gehoor…en dan tog besef datmy gehoor my nie in die steek gelaat het nie. Soos toe my pa vertel van die kind in sy klas wat hom gevra het waar hy dan nou so ‘n mooi jong vrou gekry het – dit nadat Rezel een keer saam met my pa skool toe gery het. Of toe my ma verlede week baie ernstig vir my pa gesê het dat hy my tog nie so moet aanmoedig om so te drink nie, toe hy vir my wyn tydens ete aanbied – dit omdat dit al die tweede keer daardie week was wat ons wyn gedrink het. Sy begin nou bekommerd raak. (Bygesê, ry ons nou al 2 weke met ‘n boks wyn in elke voertuig rond, bloot omdat daar geen plek in die huis is om dit te bêre nie…en andersins omdat dit op uitverkoping was. Natuurlik.) Toe Rezel hardop begin planne maak om my ma (‘n baie aktiewe faceboek gebruiker)  van fb te blok, het my ma doodeenvoudig gedreig om haar uit die huis uit te blok. En wat kan mens nou maak. Blyplek het jy nodig. My gunsteling was egter toe Rezel so tydjie terug eend aan in my kamer inbars, half histeries, en ‘rolbal’ herhaaldelik uitroep terwyl daar trane by haar wange afrol. ‘Sy wil hê ek moet rolbal speel!’ Dit was my ma se eenvoudige oplossing daarvoor dat Rezel nuwe mense moet ontmoet. (wat eintlik ‘n baie gevaarlike sport is, as mens in ag neem dat dit die sportsoort is met die hoogte sterftesyfer tydens deelname).

Mens kry dam snaakse mense…en ek is gelukkig genoeg om in ‘n hele huis vol van hulle te bly.

Advertisements
Posted in Uncategorized | 3 Comments

Ek is jammer, ek was verkeerd…

…toe ek onlangs (wat teen diè tyd soos ‘n ander leeftyd voel) foutiewelik berig het dat die Belge se verhouding met kos diskreet, gedemp en oppervlakkig is. En dat hulle nie groot etes by hulle huis hou nie. En dat hulle nie soms oorboord gaan nie.

Maar ek word verkeerd bewys. Soms. En selfs met die persoonlikheidstipe wat blykbaar altyd glo dat hulle reg is (nodeloos om te sê stem ek nie daarmee saam dat ek in diè kategorie val nie), hou ek daarvan om verkeerd bewys te word. Soms. My Vlaamse vriend, Piet, se afskeid so ‘n maand gelede, was een van hierdie gevalle…

Ek het nie geweet dat die Belge fisies, emosioneel en moreel in staat is tot die vertering van die hoeveelheid vleis wat ek die Saterdagmiddag sien verdwyn het in (met die uitsondering van ons 3 Suid-Afrikaners) Belgiese monde nie. En ek praat nie van die gebruiklike tpp (tjop per persoon) nie. Nee, waarmee ons hier te doen gehad het was die

Laat-middag het ons met ons stoele al agter die son aangetrek.

Laat-middag het ons met ons stoele al agter die son aangetrek.

somtotaal van 15kg vleis wat vir 30 mense aangebied is. En, as jy wiskunde op skool gehad het, sal jy saamstem dat dit neerkom op omtrent ‘n halwe kilogram per persoon…nogals ‘n verrassing as jy aanvanklik onder die wanindruk verkeer het dat diè mense versigtig met slaggoed omgaan. Goed, bygesê dat dit ‘n paar rondtes van aanbieding en bietjie aanmoediging van die gasheer gekos het, maar nietemin. Die toneeltjie het bietjie herhinner aan ‘n tipiese Suid-Afrikaanse bring-en-braai (behalwe dat die gasheer in diè geval meeste van die bring- en braaiwerk self gedoen het):

Vogelen? Gevogelte?

Vogelen? Gevogelte?

iindidi ngeendidi slaaie wat op die tafel agtergebly het, met (bykans) leë vleispotte wat die aandag op die voorgrond getrek het. Hulle het langtand aan die chakalaka geëet – wat op versoek gemaak is omdat die naam kwansuis so snaaks is, sonder dat daar noodwendig geweet is wat die inhoud behels. Ek vermoed die chakalaka was bietjie sterker as hulle…

Dis ook nie net die etery wat nie so diskreet was soos verwag nie. Die kuier met familie en vriende om die braaivleisvuur (in hierdie geval, braaivleischarcoal) was vrolik, jolig en uitbundig. En nie versigtig nie.  Dit het ons (die Suid-Afrikaanse geselskap) ‘n rukkie geneem om te besef dat dit nie per abuis was dat daar herhaaldelik vir die ouma

Porsiebeheer?

Porsiebeheer?

vertel is dat ons van Suid-Afrika is nie. Aanvanklik het ons vermoed dat die gehoor eenvoudig vergeet het dat hulle dit reeds genoem het, en dan ewe beleef ons herkoms weer beaam…totdat ons agtergekom het dat daar ‘n patroon is, en dat die ouma Alzheimer’s het…en toe het alles sin gemaak. Elke keer is daar vir haar gevra of sy gehoor het waar ons vandaan kom, en elke keer het sy verbaas begin vertel dat sy so 40 jaar terug in die Kongo gewoon het, en daarna deur S.A. getoer het. Tot groot vermaak van die toeskouers het

Ons almal weet die lekkerste vleis is dit wat pas van die rooster kom.

Ons almal weet die lekkerste vleis is dit wat pas van die rooster kom.

dieselfde scenario hom ‘n paar keer afgespeel, natuurlik meer tot die vermaak van diègene wat dan nie weer oor en oor na dieselfde storie hoef te luister, en op die regte plekke hoef te knik nie. Maar laat niemand sê dat die ouma se geselskap nie geniet word nie. Die mense het baie gelag. Amper so baie soos toe Rezel in haar poging tot Nederlands per abuis gesê het dat ons baie ‘gevogelen’ in die park gesien het. Tot haar ongemak, en die vermaak van die toeskouers, het sy agtergekom dat daar ‘n groot verskil tussen ‘gevogelen’ en ‘gevogelte’ is (soek dit op as jy ouer as 18 is).

Die aand slaap ons 3 Suid-Afrikaners toe oor by Piet se ouers, wat ‘n gastehuis uit hul familihuis bedryf in Michielbeke, ‘n kleinerige dorpie digby Gent. Gelukkige ons. Hier is ons met die grootste hartlikheid en huislikheid ontvang, die soort wat sinoniem is met ma’s wat baie kinders grootgemaak het. En ons het selfs sjokolade vir ontbyt gekry. Weereens, gelukkkige ons. En weereens was ek in daarvoor om verkeerd bewys te word. Want toe die familie begin opdaag, besef ek dat dit nie ‘n  klein familie is nie. En toe die kos laat-middag uitgedra word, besef ek dat die hulle aptyt groter as die familie self is. Die tafel het swaar gekreun onder die rooivleis, gestoofde varkwangetjies (defnitief ‘n gunsteling) en natuurlik…frietjes. En daar is gesels. En geëet. En gelag. En geëet. En gedrink. En geëet. En nog geëet (baie soos ek groot krismisetes ken, sonder daardie ‘basaar-naar’ gevoel wat na die tyd by jou spook). Maar iets het geskort: Die chakalaka (of chakamaka soos verskeie Belge dit uitgespreek het), wat teen diè tyd al ‘n vermaaklike punt van bespreking was. Toe Piet se pa oomblike later met een reuse bak ‘chakamaka’ opdaag,  ritmies en luid op die maat van sy verwerking van ‘n chakalaka-liedjie…het ek besluit dat, wanneer ek eendag groot is, ek ‘n Vlaamse grootmens wil wees. Die tipe wat nie vergeet hoe om pret te hê nie. En nie stop na net 2 biere nie. Wat vrolik en jolig laat-aand kuier. Wat nie vervelig is nie. En ook nie die kinders dwing om al hulle groente op te eet nie…

En as jy Vlaams is, en tot hier gelees het, moet ek jou gelukwens. Jou prys? Soos belowe, sal ek nou mooi stadig verduidelik waar my naam vandaan kom:

An – my pa se naam, Andrè

Tussendeur al die etes was daar tyd vir kinderspeletjies

Tussendeur al die etes was daar tyd vir kinderspeletjies

re – my ma se naam, Regina

z – randomly van my ma se nooiensvan, DeyZel

a – Van der Merwe (hoewel ek vermoed dat dit gedoen is bloot omdat ‘Anrez’ biejie snaaks klink)

En ek belowe dat alle Suid-Afrikaners nie sulke moeilike name soos Anreza, Rezel en Alismi het nie. Maar julle is natuurlik baie welkom om self te kom kyk  – Januarie 😉

Posted in Uncategorized | 1 Comment

Nooiensvlug

Op ‘n grysgrou namiddag in Februarie het ek op Gent-Sint Pieters stasie gearriveer vir een van die grootste avonture nog. Sonder ‘n idee wat op my wag, maar met ‘n goeie kaart van die stad, baie opgewondenheid en nog meer bagasie het ek Gent begroet, die stad wat onlangs deur die lonely planet as een van Europa se bes bewaarde geheime beskou is. Vandag, net minder as 5 maande later, het iemand wat ek teen hierdie tyd ‘n baie goeie vriend kan noem, saam met my die reeds bekende roete lughawe toe gevat, om Europa (vir eers) vaarwel te roep. En om teks te gee aan dit wat tussen hierdie 2 datums gebeur het, is nie heeltemal so maklik soos wat ek gehoop het dit gaan wees nie.

Verwagtings gaan ‘n mens maar altyd hê, bewustelik…of onbewustelik. Maak nie saak hoe gevaarlik dit is om juis met hierdie tipe gedagtes om te gaan nie. En, as ek nou moet eerlik wees met myself, het hierdie laaste 5 maande nie heeltemal opgelewer wat ek gedink het dit sou nie. Maar meer. ‘n Rede hiervoor sou wees omdat my verwagtings bloot so beperk was…’n byproduk van my verwysingsraamwerk wat tot baie onlangs nog geen konsep van oorsese reise ingehou het nie. En soos ek nou die dag lees deur die kaartjie wat my ouers vir my geskryf het kort voor my koms, kon ek nie anders as om te wonder oor ons (ingebore?) evaluasiedrang nie. Nee, ek het toe nie die taal baasgeraak soos my ma my so mooi sterkte toegewens het nie. Nee, ek en my oorspronklike huismaat het nie boesemvriendinne geword nie, inteendeel, ek het net langer as ‘n maand daar gebly. En nee, die akademiese ervaring was nie lewensveranderend nie, my tesis is nie klaar geskryf nie, en niemand het vir my werk op ‘n skinkbord aangebied nie.

Ek het ook nie uitruilstudente uit alle uithoeke van die wêreld ontmoet nie. Maar ek het vir Gabija ontmoet…’n meisie uit Lithuania, wat haar PhD (in regte) in Gent kom klaarmaak het. En by wie ek (weer!) geleer het dat jy nie soortgelyke agtergronde, idees of kulture moet hê om ‘n sinvolle vriendskap te maak werk nie. En saam met wie ek vele goeie biere in van Gent se vele

Gabija weet ook hoe om 'n plan te maak...

bekende kroeë gedrink het. En saam met wie ek vele kere uit my maag uit gelag het vir die snaakse Belgiese (veral) mans. En saam met wie ek vele kere op ons geel fietse deur die strate van Gent gery het…in die reën. En wie my skaars ‘n maand nadat sy my ontmoet het, in haar bed laat slaap het nadat my landlady my uitgeskop het. En wie my ook geleer het dat mens partykeer nie moet dink nie, maar net doodeenvoudig moet doen (met spesifieke verwysing na die voltooing van my proefskrif). Maar ek is veral dankbaar dat ek so tydjie terug die voorreg gehad het om vir haar in Vilnius, haar tuisstad, te kon gaan kuier. En ook dat ek kon weet dat hierdie vriendskap dalk in Gent ontstaan het, maar nie net tot Gent beperk is nie.

Ek het ook nie ‘n oorvloed Vlaamse vriende gemaak by wie ek weke aaneen in Gent sal kan bly en voor terugkom nie. Maar ek het vir Piet ontmoet…’n Gentenaar wat my in hierdie tyd meer van die stad gewys het as wat baie locals in hulle leeftyd al gesien het. ‘n Vriend wat my geleer het van Vlaamse kuns, stadsmuseums, dat mens

Besig om te doen waarin hy goed is: Verduidelik Belgiese politiek aan toeriste

altyd ‘n nuwe bier moet probeer en nie net bloot by jou gunstelinge moet vashaak nie. En wie aanvanklik ‘n verbete poging aangewend het om my die basis van die taal te leer. En wat iets van die Vlaamse kultuur oorgedra het, met kombinasies van plaaslike opera, Belgiese flieks en ‘n keur van Belgiese jenewers. Hy het my ook geleer dat mens altyd ‘n oomblik moet stilstaan en dink, voordat jy paniekerig begin raak wanneer iets soek is. En ek het besef dat 30’s something ook maar net ‘n uitbreiding van 20’s something is. En dis net mooi hier waar ek uitgedaag is om te dink oor hoe konserwatief ek is, dink, en funksioneer (my kookstyl ook nogals, onder andere). En ook het Piet vir my ‘n regte egte Vlaamse familiehuis en familie etes gewys (maar meer hieroor in ‘n ander inskrywing). En wat ek sonder iemand sou maak wat die (nogals ingewikkelde) bussisteem soos die palm van sy hand ken, is ‘n ope vraag. En hy het my geleer dat mens maar versigtig moet wees om die belgiese spoorweg (NMBS) te vertrou. En natuurlik het ‘n mens ‘n local nodig om jou aan te moedig om al die kos te probeer wat spesiaal en tradisioneel aan die omgewing is. En om jou in te lig oor al die aktiwiteite wat die stad bied, vir ingeval daar ‘n oop naweek is. En om jou elke keer na ‘n kuierplek te vat waar jy nog nie was nie. En om vir jou te sê dat mens soms net eenvoudig in die stad moet wèès…in die strate wandel, luister na die gelag by restaurante, en om ook net die atmosfeer in te drink.

Ek het ook nie massas Suid-Afrikaners ontmoet saam met wie ek elke naweek gebraai het nie. Maar ek het vir Alismi ontmoet…’n Au pair uit Citrusdal wat sommer gou-gou ‘n baie goeie vriendin geword het. Met wie ek vir ure in Afrikaans kon praat oor die Belge, hulle

Ek en Alismi in Brussels

Ek en Alismi in Brussels

gewoontes, en hoe hulle verskil. En wie se huis sommer baie gou ook soos my huis gevoel het. Want, ten spyte van die opwinding, nuwe mense en nuwe uitdagings, het mens ‘n stukkie huis nodig orals waar jy gaan. En Alismi was daardie stukkie huis…wie presies verstaan hoekom jy somtyds uitbars van die lag, wanneer jy sukkel om vir die Belge te verduidelik hoekom jy dink dis snaaks dat hulle ‘n strand het, sonder die see. Iemand saam met wie jy net kan ‘wees’, sonder dat daar altyd ‘n gesprek betrokke is. En natuurlik, iemand saam met wie ek uitgegaan het soos ek in my eerste jaar nie eers uitgegaan het nie. En wat my geleer het om partytjieskoene te dra. En wat nooit moeg geraak het om haar kar te gebruik wanneer dit nodig was nie, want openbare vervoer is nie die maklikste opsie wanneer ‘n mens trek nie…en ek het ook nie net een keer getrek nie.

Alismi, Piet & Gabija…julle was Gent. Die atmosfeer op die Graslei en in die sentrum na sononder ook. Bier en frietjies in die son ook. Asook fietsry met hakskoene tussen die tremspore, Sint-Baafs se toring as baken, 1 euro ontbyt by Hema en die mooiste skoene wat mens kan koop wat by ‘n verskeidenheid winkels aangebied word. Die mooiste parke was ook Gent. Sonsondergange oor

Saam met 2 van my gunsteling mense, besig met een van my gunsteling aktiwiteite

watersportbaan terwyl mense draf was ook Gent, asook die groot verskeidenheid goed gerestoureerde historiese geboue. Pieknkiek op die rooi kombers was ook Gent. En ‘n hele paar aande se saamkuier om (meestal slegte) Franse rooiwyn.  Die warmste lente in iets soos 100 jaar was ook ‘n belangrike deel van my ervaring. Chips en lemoensap op die trein was ook Gent. Maar veral julle, julle was Gent. En dis julle wat ek gaan onthou wanneer ek terugdink.

En dan het ek nog nie eers begin praat van die goeie tye en ongelooflike ervarings wat ek buite die grense van België gehad het nie. Voor Februarie het ek ‘n Namibiese (wat ons almal weet nie eintlik ‘n ander land is nie) en Mosambiekse stempel in my paspoort gehad. Dit was dit. Na dese het ek ook dele van Nederland, Frankryk, Spanje, Italië, Ierland, Noorweë en Lithuania gesien. Ek, Rezel en Bibi het die beste gesien wat Parys het om te bied. Ek en Rezel het die strate van Florance platgeloop, heeltemal te veel gelato geeët, en leer gekoop. Saam met my ma en altwee susters het ons Barcelona verken. Ierland saam met Suz was groen, nat en pragtig. Noorweë was werk, maar die blitsbesoek aan Lithuania so intens dat dit voel of ek vir ‘n week daar was. En ook, tussendeur dit alles, kon Suzaan vir 2 weke kom kuier. Die beste vriende en die beste tye in een van die beste stede in die wêreld…wat meer kan ‘n mens vra.

En ek besef hoe geweldig gou ek gewoond geraak het aan alles wat aanvanklik so vreemd was. (ek kon wel nooit gewoond raak aan die dun snye winkelbrood nie, ek het maar ongesnydes gekoop en self die lem ingelê.) Ek het later nie eers meer opgelet as mense fietsry en op hulle fone praat gelyk nie – en dit self ook ‘n keer of wat prober. Die vroue met die mooi skoene het later die norm geword. Bier het nie so duur gevoel soos aanvanklik nie. Dit was later ook nie vir my vreemd dat daar doodeenvoudig altyd krag is nie (beurtkrag is ‘n realiteit). Kuns in al sy vorms wat op onverwagte plekke opduik het ook vir my so normaal geword. Asook die mooiste historiese geboue, wat jaaaare voor 1652 opgerig is. En ek het ook nie meer gelag vir die publieke piepieplekke (vir mans, natuurlik) wat strategies geplaas in die stad voorkom nie. Ek wens so half ek kon iets van die sensitiwiteit en oorweldiging wat die nuutheid inhou, oorhou.

Gister, op my laaste dag in Gent, toe Alismi my gaan aflaai speel die lirieke van ‘Hollywood Hills’ oor die radio. Ek moes hard sluk om die trane in te hou, en ek dink dis nogals gepas, corny soos dit is.

‘No I don’t want to leave but I must keep moving ahead
Cause my life belongs to the other side
Behind the great oceans’ waves

I take a part of you with me now and you won’t get it back
And a part of me will stay here
Bye bye hollywood hills,
I’m gonna miss you whereever I go
I’m gonna come back to walk these streets again
Remember that we had fun together’

Toe ek vanaand by die huis kom voel dit of ek nooit weg was nie. Dit voel of ek Gent gedroom het. (gelukkig vir die klomp foto’s wat ek geneem het en skoene wat ek gekoop het om my die teendeel te bewys!). En ek is eerlikwaar so bang dat daar ‘n tyd gaan kom wat ek nie meer aan Gent gaan dink nie. Maar nog banger as wat ek daarvoor is, is ek dat ek elke liewe dag aan Gent gaan terugdink…en hoop om weer een oggend die son oor Brussels te sien opkom…

Posted in Uncategorized | 2 Comments

Ou vriende, nuwe memories en die Engelse Queen in Ierland.

Dis eers toe ek met klammerige oë vir Suzaan op Gent-Sint Pieters stasie omhels, dat ek agterkom dat ek die laaste paar treë na haar toe gehardloop het. Dit moes bietjie belaglik gelyk het, defnitief nie ‘n toneel wat homself elke dag op daardie einste stasie afspeel nie. Maar hoe dan anders? Nadat ons 2 jaar saam in Stellenbosch gebly het, het sy vir ‘n jaar in Suid Korea gaan skoolgee. En net voor sy terug is, tjaila ek toe Gent toe. So, volgende keer wat jy 2 meisies op ‘n stasie na mekaar toe aangehardloop sien kom, dink dalk daaraan dat hulle mekaar vir ‘n jaar en ‘n half nie gesien het nie.

Die eerste koppie tee saam het so half outomaties gebeur, en is bietjie van ‘n blur as ek nou daaraan terugdink. Dis baie soos daardie laaste eksamenvraestel voor die Desembervakansie op skool – jy sien baie lank daarna uit, en terwyl jy besig is daarmee, kan jy aan niks anders dink as dat die goeie tye NOU gaan begin nie. Die daaropvolgende 2 weke is ‘n bonanza van helder en minder helder herhinneringe van goeie tye. Oues ook, maar veral spiksplinternuwe goeie herhinneringe!

Natuurlik was Suz se volgende drankie in Gent (wag daarvoor…) Bier! Maar nie voordat sy eers frietjes op die Graslei gehad het nie, ‘n gewilde plek waar studente en toeriste die son op somersdae opsoek. Ons het dit goedgedink om Suz op haar eerste aand in Europa opera toe te vat. So, na hierdie bier uitstappie het ons toe redelik gou in die pad geval. Letterlik. En dit het ook ‘n vroeë demper geplaas op die gemak waarmee ek haar op my fiets kon lift. Ek verkies om die trem te blameer wat nie gou genoeg uit ons pad kon kom nie, of die tremspoor wat ek soos die pes probeer vermy

Suzaan, Alismi en ek met Suz se 'verwelkomingsete'

Suzaan, Alismi en ek met Suz se 'verwelkomingsete'

het, of die klipsteenpad wat baaaie pyn veroorsaak vir die agter sitter se agterste anatomie. My hakskoene is natuurlik nie te blameer nie. Punt is, toe ek sê ek gaan stop, toe hèt ek al gestop. En toe ek sê Suz moet spring, toe kantel die fiets mooi netjies 90grade kant toe…met haar nog bo-op die rooster. En as ek sê sy het bene-in-die-lug met die grond kennis gemaak, dan bedoel ek bene-in-die-lug. Ook as ek sê dat diè toeneeltjie homself op ‘n straathoek afgespeel het. Nice. Die opera was toe meer as die belewenis wat ek gehoop het dit gaan wees. Om bloot in die baie mooi, baie ou gebou te wees, was al klaar ‘n ervaring. En om boonop die opera met Nederlandse onderskrifte te kon volg, ‘n welkome verrassing.

Ek het nog altyd geglo in balans. So, na ons met ‘n kultuurinspuiting begin het, was dit tyd vir sport. Maar nie voor ons ook ‘n bierinspuiting gehad het nie (enige atleet wat sy sout werd is, sal vir jou kan sê dat carbo loading die dag voor ‘n halfmarathon die belangrikste deel van jou voorbereiding is). En as mens nou op bier kan carbo load, soveel te meer. Veral as die bier gedrink word by die Heineken experience in Amsterdam! Right, so die Saterdagoggend dou voor dag, vat ons toe die trein

Suz tussen die koperketels by die Heineken Experience in Amsterdam

Suz tussen die koperketels by die Heineken Experience in Amsterdam

Amsterdam toe vir ons biere. En ons het groot sports gehad. (ek beskou dit natuurlik steeds as ‘n leersame, akademiese uitstappie). Gelukkig (ek wonder nou nog of Suz haarself ook so gelukkig ag) vir ons, is daar net mooi in die tyd wat Suz in Europa is ‘n halfmarathon net mooi in die dorp waar Rezel bly. So Sondag neem ons toe deel aan die (wie weet) hoeveelste Leiden halfmarathon – met ‘n ene Mok Scheffer as organiseerder. (ek sê vir julle van hierdie mense het snaaaakse name) As dit nie vir my brandende bors en moeë bene was wat my bestaan en bewussyn bevestig het nie, sou ek gedink het die halfmarathon was ‘n droom. Dit het onwerklik gevoel om deur die prentjiemooi straatjies te hardloop, uit die dorp uit, deur ‘n paar velde en weer terug langs die kanaal af na die eindstreep. Die dorp was in rep en roer. Orals het mense langs die pad gestaan, kinders het aangemoedig, mense het ‘hup’ geskree, blaasorkeste het basuin, musiek het gemotiveer. Dan was daar ook die random individu wat dit op haarself geneem het om die atlete van lemoenskyfies te voorsien (daardie einste soort wat jy tydens netbalwedstryde op laerskool gekry het). Kort naby die eindstreep het ons ‘n groot gejuig gehoor, onseker oor wat dan nou juis diè opgewondenheid sou kon veroorsaak. Wel, daar is min dinge wat jou so nederig hou soos die besef dat iemand anders in dieselfde tyd wat dit jou geneem het om 21.1 km te hardloop, die volle 42.2 kon doen. So met die energie nog tasbaar in die lug na die marathon wenner klaargemaak het, en ‘n boot vol Nederlandse koperblasers in die kanaal langsaan, beur ek en Suz toe oor die eindstreep van ons eerste internasionale halfmarathon – wat ‘n belewenis!

Die res van die week het Suz aan Keukenhof en Gent doen-dinge gewy, terwyl ek in die kantoor besig was om te doen waarvoor ek gekom het. Tot Woensdagaand…Want, as jy die somtotaal van 47euro betaal vir ‘n retoervlug Dublin toe, dan kan jy maar staatmaak daarop dat dit met ongemak gepaard gaan gaan. Nee, nie die tipe in die

Suz kry ons 'matrasse' reg, met ons 'afdakkies' in die agtergrond.

Suz kry ons 'matrasse' reg, met ons 'afdakkies' in die agtergrond.

vliegtuig nie, dis maklik om te hanteer wanneer dit tot ‘n uur en ‘n half beperk is. Die ongemak waarvan ek praat is die soort wat ‘n nag op die lughawe inhou. Want sien, as jy 06:20 moet board, en daar geen publieke vervoer is wat jou op daardie tyd en uur by die lughawe kan besorg nie, dan sorg jy maar dat jy al die vorige aand daar is. En as jy van Suid-Afrika af kom (en Suz boonop voortrekkers gedoen het), het jy ‘n gelukkig ‘n voordeel – jy het ‘n idee hoe om te maak wanneer dit by informele nedersettings kom. So, met al ons klere tot ons beskikking onder ons as isolasie teen die harde vloer, en ons serpe bo-oor ons koppe as isolasie teen die helder lughawe ligte, het ons darem die aand ‘n bietjie geslaap gekry. Nie baie nie, maar tog. Net genoeg om nie om te gee dat almal wat verbygeloop het in ons rigtig gewys en gelag het nie. Wel, ek verkies om te glo dat ons ‘n rewolusie in ‘lughawe slaap’ veroorsaak het – serpe sal nooit meer net serpe kan wees nie…eerde afdakkies, en waterbottels sal in die toekoms na verwys word as gewiggies om hierdie afdakkies bo te hou…

Dis nou alles goed en wel as die queen Ierland vir die eerste keer ooit besoek. Dis ook nog ok as ons eerste besoek ooit aan Dublin met hierdiè besoek saamval. Waar die probleem egter ingekom het, is toe baie van die paaie gesluit was juis vir die rede. So tussendeur geslote paaie en bietjie reën, het ons ons dag in Dublin gevul met doen-

Ek en Suz by die Cliffs of Mohar

Ek en Suz by die Cliffs of Mohar

dinge vir toeriste: St. Patrick’s katedraal, Trinity college, ‘n museum of 2…en natuurlik ‘n Ierse bredie. Nadat ons ‘n groot deel van Dublin platgeloop het op soek na die plek waar die bus stop wanneer die queen op besoek is, kon ons darem toe ons pad uit die stad kry na waar ons vir Corri moes ontmoet. Corri is Suz se vriendin van skool, wat saam met haar rugby-afrigter man in Athlone, so uur en ‘n half uit Dublin bly. (Jip, Athlone is toe nie eie aan die Kaap nie…hoewel ek nie die Iere ooit ‘F-lone’ hoor sê het nie). Ons het vir 4 dae by Corri gebly, en sy het ons op dag 1 op ‘n toer gestuur om die ‘Cliffs of Mohar’ te gaan sien. Dis die 3de grootste cliffs in Ierland, baie mooi, en baie gewild onder toeriste. Saterdag vat Corri vir ons Waterford toe, waar ons bietjie gaan kyk het hoe die kristalfabriek daar werk. En ons was betyds in Kilkenny om te sien hoe Leinster die Heineken Cup wen. Natuurlik is die Ierse oorwinning in ‘n Ierse kroeg met Guinness gevier – wat ‘n ervaring! Die Ierse platteland is selfs nog mooier as wat ek myself voorgestel het. En heelwat natter – daar is ‘n baie goeie rede hoekom alles so groen is. Ek dink nie ek het al ooit in my lewe so baie groen in een dag gesien nie…of so baie reën in 4 dae nie. Nietemin, ons het heerlik gekuier en heerlik gedrink aan ingevoerde Nederburg.

Die volgende week terug in Gent het ek my woorde gesluk dat België slegte weer het. Ek het nuwe waardering vir sonskyn in die somer gekry. Ons volgende paar dae se aktiwiteite is fyn beplan rondom die hoeveelheid en tyd wanneer ons kon eet. En drink. Etes is immers die hoogtepunt van vele van ons uistappies. Selfs nadat ons gehoor het ‘you eat well’, het dit ons nie gestuit nie. Ons het probeer om soveel as moontlik sonskyn in ons etes te inkorporeer, en dit het gelei tot iindidi ngeendidi pieniekgeleenthede. En so tussendeur die laaste week se rondwys en kuier, is daar ook baie gesels rondom vele koppies tee.

Die Vrydagoggend toe ek saam met Suz na die busstop is waar sy haar Parys-bus moes haal, het dit vir die eerste keer in ‘n lang tyd katte en honde gereën in Gent. Oppad terug huis toe kon ek nie help om terug te dink aan wat ‘n xhosa vriend ‘n paar jaar terug vir my van hul kultuur vertel het nie: Hulle glo dat waneer dit reën op die dag wat iemand ‘n plek verlaat, dit ‘n teken is dat daardie persoon die plek met ‘n seëning agterlaat. Wat ‘n memorable kuier. Wat ‘n goeie vriendin. Wat ‘n voorreg! Geseënd 🙂

Posted in Uncategorized | Leave a comment

Die vier Van der Merwe vroue en die Spaanse polisie.

Dis vandag presies 3 maande sedert ek in Gent arriveer het. So ‘n week of wat gelede het ek die ongelooflike voorreg gehad om al die vroue in my gesin hier te ontvang. Natuurlik sou ons die vader van die huis so graag by ons wou hê, maar om ‘n Karoo plaaskind op ‘n internasionale vlug te kry, is makliker gesê as gedaan. En hoogtevrees is ‘n realiteit. En wie is ek nou om onrealistiese vrese te bevraagteken. (enige een wat al saam met my op ‘n boot in Mosambiek was, sal verstaan)

Vreemd. Onwerklik. Opwindend. ‘n Aanpassing. Maar bowenal ‘n voorreg.

Andri en mamsie het ‘n dag voor ek by hulle aangesluit het, by Rezel in Leiden aangekom. Aanvanklik was dit geweldig vreemd. Asof 2 lewens eensklaps versmelt…  waar die vreemde, opwindende lewe in België kop-aan-kop bots met alles wat bekend en alles wat huis is. Die fisiese uitdagings het die botoon gevoer. Vier van ons saam in Rezel se (reeds beknopte, gelukkig skoon) kamer in ‘n studentehuis is ‘n reuse aanpassing, om die minste te sê. Voeg daarby 1xsnorker en 1xtandeknerser en jy het slapelose nagte. Letterlik. (ek gaan nou nie name noem nie, maar ons vermoed die probleem het uit S.A. aangekom) Dus, na ‘n nag van die

Marilyn retake

Ons help vir Marilyn om die nodigste toe te hou by die wasmuseum in Amsterdam.

 ‘snurkkonsert’ (met erkenning aan Vlaamse vriend Piet wat later die situasie bewoord het), het my eerste dag in Amsterdam saam met hulle iindidi ngeendidi fisiese uitdagings ingehou. Kom ek stel dit so: Nie die fiksheid, energie, ledemaatgebruik of ouderdom van ons groepie is normaal of eweredig versprei nie. En as julle enige iets van statistiek verstaan, sal julle besef hoe moeilik dit dan is om ‘n gemiddelde beweeg tempo te vind. Maar tussendeur verpligte rusposes het ons baie pret gehad. Ons het Anne Frank se huis besoek, poseer saam met die sterre in Madame Taussaud’s, kaas geproe soos mense wat nog nooit kos gehad het nie…en onsself weer die aand aan die snurkkonsert onderwerp. Die volgende ogggend vroeg (op my aanbeveling) het ons Keukenhof besoek, wat defnitief een van de hoogtepunte van die kuier was.

Bloemen!

Keukenhof - die plek waar blomme en fotograwe ontmoet

 Na 3 aande saam in Rezel se kamer, is ons span toe Gent toe…vir Belgiese sjokolade, ou geboue, spekuloos en aparte kamers vir die snurkkonsert en die gehoor. Hier het ek weer bewus geword daarvan dat verskeie mense verskeie behoeftes het wanneer dit daarop neerkom om ‘n nuwe stad te ontdek. So byvoorbeld kan ‘n historiese skildery met ‘n geheimsinnige agtergrond by een gesinslid presies dieselfde reaksie ontlok wat die lekkergoedwinkel ‘ollecke bollecke’ by ‘n ander kan doen. Vlaamse vriend Piet het ons die Sondag ‘n toer van die stad gegee, met geskiedenislesse vervleg in die alomteenwoordige verpligte rusposes.

Op die bekende brug in die stadsentrum, met Gent se kanaal en ou geboue in die agtergrond.

En natuurlik het ons middagete uit Vlaamse frietjes bestaan. Met mayonnaise…hoe dan anders. Dit was vir my heerlik om hulle die stad te wys waar ek nou na 3 maande al so tuis voel. Ons het selfs Sondagaand familie van ons vir ete in die stad gekry – wat ‘n aand om te onthou!

Na ons kuier in Gent, is ons 4 toe na die suide van België, naby die Duitse grens, om 2 aande in ‘n ‘sprokieskasteel’ te gaan slaap. Dit was sprokiesmooi, en ons het heerlik geslaap. Dit was lekker en goed om ‘n ander deel van die land ook te sien – nie net stede nie, maar ook ‘n kleiner plattelandse dorop, met die mooiste natuurskoon. Hier het ons vir ‘n wandeling gegaan,en die foto wat ek daarna geneem het, is my ‘n goeie voorbeeld van hoe kodak oomblikke verloop het: Die neutrale ma (wat hier bereidheid en posisie betref), Andri wat tande uitpak wanneer iemand ook al ‘n hand na hulle kamera uitstrek, en Rezel-Ik-ben-moe-Van der Merwe.

Na ons besoek aan die suide, is ons toe Barcelona toe vir 3 aande. En wat ‘n verrassing was hierdie stad nie, en defnitief een van my gunsteling plekke tot dusver. Die stad is ongelooflik, lewendig, die publieke vervoer is baie goed en billik, en ook is daar baie om te sien sonder dat jy enigsins hoef te betaal daarvoor. ONs eerste aand daar is dit dan ook nou ‘n belangrike sokkerwedstryd tussen Barcelona en Madrid. Ek was op die rekenaar in die hostel besig, en toe ek omkyk, het ek nogals lag gekry vir die toneeltjie wat homself afspeel: hier sit my liewe mamsie tussen ‘n jong Spaanse mans en sokker ‘kyk’. As sy nie kort voor die einde gevra het watter kleur Barcelona is nie, sou hulle ook waarskynlik gedink het dat sy aandag gegee het. Na Barcelona se oorwinning het ek en Andri bietjie deur die strate van  gewandel…met grootskaalse feesvieringe, Messi hemde, toeters, massas mense…en hier en daar sowaar ‘n verdwaalde vuvuzela. Wat ‘n ervaring.     

Die volende 2 dae is hoofsaaklik gevul deur Gaudi. Soveel mosaïek en asimmetriese argitektuur het ons in 2 dae gesien dat my kop letterlik gedraai het toe dit die kussing tref aan die einde van dag 2. Hier het die beweegtempo al aansienlik makliker as aan die begin gegaan. Die rede hiervoor is onseker…dis moontlik dat ons almal aangepas het by een gemeenskaplik ritme, dit kan wees dat mamsie skelm baie sterk pynpille vir haar voete gevat het, dit kan aan Barcelona se uitstekende metro toegeskryf word…of die fiksheid van die groep het ‘n ewewig bereik. All in all, het ons tussen olimpiese geboue, roltrappe, nog Gaudi, sangria, winkels en ‘n Spaanse dans konsert ongelooflik baie pret gehad. Maar…

Die toneel wat Vrydagaand in Barcelona se metro en daarna die polisiestasie afgespeel het, is defnitief die een wat my sal bybly: Soos ons uit die metro stap, stamp ‘n tengerige mannetjie Andri van voor. Hy het so ‘n wilde kyk in sy oë (die tipe wat tydens studente eksamens geassosieer word met ‘n oordosis bioplus), en ek kon onmiddellik sien dat iets nie pluis is nie. Wie presies wat gedoen het, en die chronologie van die gebeure, is nou nog onduidelik. Ek weet net ek het Andri se naam geroep (ook omdat ons al baie teen pickpocketers gewaarsku is), sy het besef dat haar handsak oop is oombliklik besef dat haar kamera en beursie weg is. Voor ek myself kon kry, het ek toe die skralerige Spanjaard aan die pols beet. En voor hy hom kon kry, is hy in ‘n hoekie ingedruk, en word hy omsingel deur 4 groterig geboude Suid Afrikaanse vroue. Hy moes besef het sy einde is naby, want hy het gou gewys na die plek waar die beursie (minus die 35 euro) toe lê. Of miskien het hy besef dat hy ons onderskat het, toe Rezel as deel van haar preek vir hom sê: ‘We are from South Africa, we know criminals’. Ek het redelik konstant ‘police’ uitgeroep, sodat iemand ons kon help. Ook was ek bang om die mensmuur te verlaat, want ons 4 het soos ‘n span saamgewerk om die klein mannetjie net daar vasgekeer te hou. Minute later het ons die Spaanse metropolisie daar, en bevind ons onsself toe nou in die naaste polisikantoor…saam met die tenger sakkeroller. Dus: Vrydagaand, geen magic fountain nie, maar toe wel die Spaanse polisiestasie. Sien, dinge werk soms anders uit. Maar…terwyl ons vir die ongemaklik aantreklike Spaanse polisieman oor en oor in charades-styl uitbeeld presies hoe die rooftog plaasgevind het, het ons pret gehad. Niemand het iemand anders kwalik geneem vir die tyd wat ons daar spandeer het nie. Niemand het ongeduldig geraak as hulle oor en oor moes beskryf wat gebeur het nie. En net daar…na verskeie overpriced toeriste aktiwiteite die laaste week, het ons 4 gelag soos ons lanklaas gelag het. Vir onsself. Vir die polisiman wat probeer Engels praat…vir hom omdat hy gedink het die groen ‘khaki’ baadjie is ‘n ‘cookie’ kleur, en ook omdat ons ten minste een sakkeroller die binnekant van die tjoekie vir een aand gewys het. En ek het die grootste waardering vir ons saamwees gekry. En trots gevoel op my gesin omdat hulle selfs in die polisiestasie kan kuier.

Europa is great. Saamwees is beter.

ns. die aand later toe Andri haar kamera in haar rugsak ontdek, is ons 4 vir ‘n minuut tot stilte gedwing…nadat ons klaar begin afskeid neem het van al die foto’s wat sodanig ‘verloor’ het. Maar ons was nie kwaad nie. Ons was saam. En dit was ons laaste aand saam in Europa vir nou.

Posted in Uncategorized | 4 Comments

Maag-mense

Ek dink nie ek word uitermate deur my emosies beheer nie. Ek dink ook nie ek is die kop-mens soos my sielkundige (ook in die volks

As die son skyn, word daar buite geëet. Piekniek nommer een van die afgelope naweek.

mond bekend as my ‘hippo’) my wil laat glo nie. Nee, ek dink ek val onder die 3de kategorie mense…maag-mense…(wat mens seker dan nou maar terugneem na kategorie 1, as jy een van die ou soort is wat die ‘pad na die hart’ aanhang)

Kos is my lewe. Letterlik. Ek skryf elke dag daaroor, en noem dit ‘n proefskrif. (ek lag nou wel nie meer vir daardie ‘appel ‘n dag’ grappies nie). Ek hoop (regtig!) om eendag ‘n lewe daarvan te maak. Daarom het ek gedink dis heel verdedigbaar dat ek dan nou een van my heel eerste inskrywings juis aan my eerste liefde wy. En, ek dink ook ‘n mens kan nogals baie van mense en hul kultuur sien en verstaan as jy dan nou oplet hoe presies hulle verhouding met hierdie lewensnoodsaaklike wondermiddels werk. En ek sal dit waag om te sê dat dit ook dui op die verhoudings wat hulle met mekaar het.

Die Belge hou van eet. En hulle het goeie kos. Baie. (op watter stukkies aarde hulle dit produseer, moet ek nog uitvind). Hulle sjokolade is so lekker soos ek gehoop het dit gaan wees. Hulle fyngebak so divers soos ek gedroom het. Hulle suiwelprodukte getuig van massas beeste wat nugter-alleen-weet-waar aangehou word. En die voedselpryse strook nie met die gemiddelde gewig van die man/vrou op straat nie. Kom ek verduidelik…

By die afslag supermark om die draai, kan jy ‘n liter melk koop vir omtrent R6. MAAR, dan kan jy ook ‘n liter sjokolademelk vir R5,40 koop. (wat meer is as die gemiddelde Steri Stumpi, het Rezel my so mooi herhinner). Vir R6 kan jy ‘n (ja, een) appel koop. Jy kan ook ‘n ordentlike, goeie sjokolade vir dieselfde prys kry. Vir 2x soveel kan jy 10 Belgiese sjokoladewafels koop. En dan is daar mense wat nog appels eet. (ek besef natuurlik ek is nie heeltemal objektief wanneer dit presies by hierdie vruggies kom nie). Belge is nie groot vleis eters nie. Alle proteïene word voorverpak in baie klein eenhede. So byvoorbeeld kan jy baie maklik ‘n enkele verpakte hoenderborsie (hier bekend as kip, ek begin-begin nou darem ophou lag daaroor) koop. En ek kan nie help om te wonder hoe jy by Pick’nPay gaan uitstap met ‘n halwe lam vir jou volgende braai nie, in individueel verpakte tjops…

Wat my by my volgende punt uitbring. Die Belge se verhouding met kos, is vir my bietjie soos hulle verhouding met mekaar: Versigtig, gerantsioneer, en hulle neem dit in klein dosisse. Hulle het die wonderlikste sjokolade, maar eet dit nie elke dag nie. Hulle hou op eet wanneer hulle versadig is. (En sal hulself nie vir die volgende paar uur ongemaklik eet, net om die gasvrou tog mooi te laat verstaan dat haar kos uit die boonste rakke was nie). Hulle gaan uit. Hulle kuier met vriende. Maar in klein hoeveelhede. Bietjie gedemp, soos die dikte van hul snye winkelbrood. Hulle eet nie lelik  of gaan oorboord met die poeding nie. Hulle skree ook nie kliphard oor die straat vir hulle vriende wat hulle lanklaas gesien het nie. Hulle hou nie groot etes by hulle huis nie. Hulle begin ook nie hartlike geselsies maak met wildvreemdelinge in die verbygaan nie. Hulle eet goed wat bymekaar pas. Maar hulle lag ook nie kliphard uit hulle beurt nie.

En hulle drink nie melk in hulle tee nie.

Maar ek hou van hulle. En hulle kos.

Posted in Uncategorized | 4 Comments

…2 maande later…

Links is Gabija, my Luthianian vriendin, en regs is Alismi, 'n au-pair uit Citrusdal, wat my hier-wees soveel lekkerder maak.

En nou, presies 2 maande nadat ek my voete aan Europese wal gesit het, het ek opnuut besluit om tog nie die ‘blog’ droom te laat vaar nie. Het ek nou eers tyd om te skryf? Nee, beslis nie. Dis  net omdat daar nou veral iets anders is wat moet gebeur (contrary to popular belief werk ek tog aan my tesis). En so werk die storie van structured procrastination. Plus, ek het my laptop op die trein saamgebring, waar ek nou hier sit en skryf. Geen beter tyd om te skryf as treintyd nie. En die tye wat ek eintlik wou blog, het my baie laat dink aan my en Suz se eerste M-jaar in Stanzi. Die basiese konsep is dieselfde. Net sodra jy regtig tyd maak om ‘n aand te werk (of te skryf aan my blog, in die geval), dan gebeur daar klokslag iets baie opwinderder. Wat dan, nodeloos om te sê, altyd wen.

Aangesien al my hoopvolle, naïewe idees om aan die blog te kom (juis oor my eie hoopvolle, naïewe idees), het ek besluit om hierdie eerste inskrywing dan nou maar te wy aan dit wat ek presies die laaste 2 maande geleer het.

 Ek het geleer dat, hoewel mens altyd ontsettend bang is dat dit nie gaan gebeur nie, dit een van die doodnatuurlikste prosesse is om vriende te maak. En dit gebeur. In Stellenbosch. In Gent. En hopelik nog op ‘n hele paar aantal plekke. Hierdie keer het dit gebeur met ‘n meisie van Lithuania wat ek op my heel eerste dag in Gent ontmoet het. Sommer die heel eerste persoon met wie ek gepraat het by die inligtingsdag wat vir internasionale studente gehou is. En nou, na 2 maande, is ek baie hartseer om haar te groet. Haar PhD proefskrif is klaar, en na ‘n hele paar beloftes om Lithuania en Suid-Afrika te besoek, sien ek nie baie uit om haar êrens in volgende week te groet nie. En tog wonder ek wat gemaak het dat ons daardie eerste dag net geclick het. En ek kan nie. En die waarde wat ek aan ons vriendskap heg, hou veral verband hiermee. En nee, ons is glad nie dieselfde nie. Het nie dieselfde agtergrond, belangstellings, waardes of geloof nie. Maar tog, is daar iets ver verwyderd van kultuurverskille wat ons tog so soortgelyk maak. (en wat my onwillekeurig laat dink aan die moeilik ‘om te mens’ vraag wat my vriendin Helenè tydens ‘n preek gestel het).

Ek het geleer dat die Belge nie vla maak/eet nie. Hoe bedien mens dan nou malvapoeding.

 Ek het geleer dat ander buitelanders dink my Engels is goed. En ek stel hulle nie graag reg nie. En blykbaar het ek ‘n Britse aksent. Waar dit vandaan kom, weet nugter alleen.

Ek het gesien dat Gent in die winter en Gent in die lente, eintlik 2 heeltemal verskillende stede is. Daar is defnitief ‘n duidelike verwantskap tussen die kwikmeter en die hoeveelheid mense in die strate. Ek wonder steeds waar almal in die winter weggekruip het, want deesdae is die plek aansienlik besiger as net ‘n maand gelede. En die Vlaminge is ook vriendeliker as die son skyn. All in all, is almal net bloot gelukkiger.

Ek het besef dat ek min weet. Nee, eintlik het ek dit al lankal besef, ek het net nou weer intens bewus geraak daarvan. Ek weet bykans niks van kuns nie. Ook nie van geskiedenis nie. En veral nie van daardie goed wat grênd mense altyd baie van weet nie.

Ek het ordentlik geleer fietsry. Ek kan dit nou selfs al met hakskoene doen. En, ek het dit vanaand vir die eerste keer gedoen met een hand op die stuur, terwyl die ander hand my groot sak agter op die saal vasdruk. En ek het selfs al saam met Rezel op haar fiets gery. Dis reg- 2 susters, 1 fiets. Sy lift vir jou ‘n ding laf. Ek weet nie of haar tipe balans my beskore is nie. (en besef dat ek dit baie baie gou moet leer doen as ek wil hê Suz moet saam met my op een fiets ry).

Ek het ongelooflike plekke gesien. Waarvan Montpellier, Florance, Verona, Parys, Utrecht en Pisa maar net enkele hoogtepunte is. En ek het ook ‘n foto by die Eiffeltoring. En ek het ook so baie goed gesien waarvan ek vroeër net gehoor het, of verduidelik het op die 30seconds kaartjies.

Ek het ook besef dat die manier om ‘n stad te leer ken wat ek die meeste geniet, doodeenvoudig is om deur die strate rond te loop. So sien mens baie van die mense, hoe hulle aantrek, wat hulle doen, en ook natuurlik baie van hoe die stad lyk. En is Gent nie ‘n mooi stad nie!

Ek het geleer bier drink. Hoewel nie alles wat hier as ‘bier’ verkoop word, noodwendig strook met dit wat ons Suid-Afrikaners as bier sal definieer nie. Die kersie bier is beslis een van my gunstelinge, hoewel ek ook al piesang- en suurlemoenbier gedrink het. Vreemd.

Ek het ook die geleentheid gehad om regte egte Belgiese wafels te maak. Die hotelskool het ‘n ekskursie vir internasionale studente gereël waar hulle ons die resep, ‘n demonstrasie en die geleentheid om dit self te maak, gegee het. Ek hoop dat my vriende dus nog vir jare lank die vrugte van my Vlaamse besoek gaan pluk, want ek is defnitief nie van plan om hierdie resep te laat stof opgaar met my terugkeer nie.

Ek het in hierdie 2 maande 2 Vlaamse vriende gemaak. En is veral hieroor erg dankbaar. ‘n Regte egte vriendskap bied net eenvoudig soveel meer van ‘n platvorm om vrae te vra, die kultuur te leer ken, en ook om die menste bietjie beter te verstaan. En natuurlik om ‘n bonanza van regte egte Vlaamse ervarings te verseker.

Ek het geleer om nie te lag wanneer ek mense se verbaasde uitdrukking sien wanneer hulle hoor ek is van S.A. nie. En ek is bly dat Willem my juis hieroor gewaarsku het. Ek ken nou al die gesigsuitdrukking wat sê: ‘Jy kan nie van Afrika wees nie, jy is dan wit.’ En moet sê dat ek dit meer by die internasionale studente as noodwendig by die Vlaaminge self gekry het. Soms raak ek ‘n bietjie aspris, en vra sommer prontuit of hulle geweet het dat daar wit mense in Afrika is. Maar, dan verdedig hulle hulself deur te sê dat hulle net verbaas is, omdat ek blond is. Mmm, diplomaties. Die ‘verbaasde gesigsuidrukking’ ervaring is natuurlik baie minder snaaks as ek dit kry wanneer mense hoor dat ek ‘n Christen is. Kombineer dit nou met ‘wit in Afrika’ en jy kan jou gehoor dronkslaan.

Ek het besef dat die mense nie so erg lief is vir vroeg opstaan nie. Die vroegste klasse soggens is eers 08:30, maar daar gaan gewoonlik nie veel voor 09:00 aan nie.

Ek het geleer dat die mense hier baie minder issues het. Maar dat hulle ook nie vir God het nie.

En ek het nou besef dat ek baie graag meer gereeld oor my ervarings hier wil skryf.



Posted in Uncategorized | 3 Comments