…2 maande later…

Links is Gabija, my Luthianian vriendin, en regs is Alismi, 'n au-pair uit Citrusdal, wat my hier-wees soveel lekkerder maak.

En nou, presies 2 maande nadat ek my voete aan Europese wal gesit het, het ek opnuut besluit om tog nie die ‘blog’ droom te laat vaar nie. Het ek nou eers tyd om te skryf? Nee, beslis nie. Dis  net omdat daar nou veral iets anders is wat moet gebeur (contrary to popular belief werk ek tog aan my tesis). En so werk die storie van structured procrastination. Plus, ek het my laptop op die trein saamgebring, waar ek nou hier sit en skryf. Geen beter tyd om te skryf as treintyd nie. En die tye wat ek eintlik wou blog, het my baie laat dink aan my en Suz se eerste M-jaar in Stanzi. Die basiese konsep is dieselfde. Net sodra jy regtig tyd maak om ‘n aand te werk (of te skryf aan my blog, in die geval), dan gebeur daar klokslag iets baie opwinderder. Wat dan, nodeloos om te sê, altyd wen.

Aangesien al my hoopvolle, naïewe idees om aan die blog te kom (juis oor my eie hoopvolle, naïewe idees), het ek besluit om hierdie eerste inskrywing dan nou maar te wy aan dit wat ek presies die laaste 2 maande geleer het.

 Ek het geleer dat, hoewel mens altyd ontsettend bang is dat dit nie gaan gebeur nie, dit een van die doodnatuurlikste prosesse is om vriende te maak. En dit gebeur. In Stellenbosch. In Gent. En hopelik nog op ‘n hele paar aantal plekke. Hierdie keer het dit gebeur met ‘n meisie van Lithuania wat ek op my heel eerste dag in Gent ontmoet het. Sommer die heel eerste persoon met wie ek gepraat het by die inligtingsdag wat vir internasionale studente gehou is. En nou, na 2 maande, is ek baie hartseer om haar te groet. Haar PhD proefskrif is klaar, en na ‘n hele paar beloftes om Lithuania en Suid-Afrika te besoek, sien ek nie baie uit om haar êrens in volgende week te groet nie. En tog wonder ek wat gemaak het dat ons daardie eerste dag net geclick het. En ek kan nie. En die waarde wat ek aan ons vriendskap heg, hou veral verband hiermee. En nee, ons is glad nie dieselfde nie. Het nie dieselfde agtergrond, belangstellings, waardes of geloof nie. Maar tog, is daar iets ver verwyderd van kultuurverskille wat ons tog so soortgelyk maak. (en wat my onwillekeurig laat dink aan die moeilik ‘om te mens’ vraag wat my vriendin Helenè tydens ‘n preek gestel het).

Ek het geleer dat die Belge nie vla maak/eet nie. Hoe bedien mens dan nou malvapoeding.

 Ek het geleer dat ander buitelanders dink my Engels is goed. En ek stel hulle nie graag reg nie. En blykbaar het ek ‘n Britse aksent. Waar dit vandaan kom, weet nugter alleen.

Ek het gesien dat Gent in die winter en Gent in die lente, eintlik 2 heeltemal verskillende stede is. Daar is defnitief ‘n duidelike verwantskap tussen die kwikmeter en die hoeveelheid mense in die strate. Ek wonder steeds waar almal in die winter weggekruip het, want deesdae is die plek aansienlik besiger as net ‘n maand gelede. En die Vlaminge is ook vriendeliker as die son skyn. All in all, is almal net bloot gelukkiger.

Ek het besef dat ek min weet. Nee, eintlik het ek dit al lankal besef, ek het net nou weer intens bewus geraak daarvan. Ek weet bykans niks van kuns nie. Ook nie van geskiedenis nie. En veral nie van daardie goed wat grênd mense altyd baie van weet nie.

Ek het ordentlik geleer fietsry. Ek kan dit nou selfs al met hakskoene doen. En, ek het dit vanaand vir die eerste keer gedoen met een hand op die stuur, terwyl die ander hand my groot sak agter op die saal vasdruk. En ek het selfs al saam met Rezel op haar fiets gery. Dis reg- 2 susters, 1 fiets. Sy lift vir jou ‘n ding laf. Ek weet nie of haar tipe balans my beskore is nie. (en besef dat ek dit baie baie gou moet leer doen as ek wil hê Suz moet saam met my op een fiets ry).

Ek het ongelooflike plekke gesien. Waarvan Montpellier, Florance, Verona, Parys, Utrecht en Pisa maar net enkele hoogtepunte is. En ek het ook ‘n foto by die Eiffeltoring. En ek het ook so baie goed gesien waarvan ek vroeër net gehoor het, of verduidelik het op die 30seconds kaartjies.

Ek het ook besef dat die manier om ‘n stad te leer ken wat ek die meeste geniet, doodeenvoudig is om deur die strate rond te loop. So sien mens baie van die mense, hoe hulle aantrek, wat hulle doen, en ook natuurlik baie van hoe die stad lyk. En is Gent nie ‘n mooi stad nie!

Ek het geleer bier drink. Hoewel nie alles wat hier as ‘bier’ verkoop word, noodwendig strook met dit wat ons Suid-Afrikaners as bier sal definieer nie. Die kersie bier is beslis een van my gunstelinge, hoewel ek ook al piesang- en suurlemoenbier gedrink het. Vreemd.

Ek het ook die geleentheid gehad om regte egte Belgiese wafels te maak. Die hotelskool het ‘n ekskursie vir internasionale studente gereël waar hulle ons die resep, ‘n demonstrasie en die geleentheid om dit self te maak, gegee het. Ek hoop dat my vriende dus nog vir jare lank die vrugte van my Vlaamse besoek gaan pluk, want ek is defnitief nie van plan om hierdie resep te laat stof opgaar met my terugkeer nie.

Ek het in hierdie 2 maande 2 Vlaamse vriende gemaak. En is veral hieroor erg dankbaar. ‘n Regte egte vriendskap bied net eenvoudig soveel meer van ‘n platvorm om vrae te vra, die kultuur te leer ken, en ook om die menste bietjie beter te verstaan. En natuurlik om ‘n bonanza van regte egte Vlaamse ervarings te verseker.

Ek het geleer om nie te lag wanneer ek mense se verbaasde uitdrukking sien wanneer hulle hoor ek is van S.A. nie. En ek is bly dat Willem my juis hieroor gewaarsku het. Ek ken nou al die gesigsuitdrukking wat sê: ‘Jy kan nie van Afrika wees nie, jy is dan wit.’ En moet sê dat ek dit meer by die internasionale studente as noodwendig by die Vlaaminge self gekry het. Soms raak ek ‘n bietjie aspris, en vra sommer prontuit of hulle geweet het dat daar wit mense in Afrika is. Maar, dan verdedig hulle hulself deur te sê dat hulle net verbaas is, omdat ek blond is. Mmm, diplomaties. Die ‘verbaasde gesigsuidrukking’ ervaring is natuurlik baie minder snaaks as ek dit kry wanneer mense hoor dat ek ‘n Christen is. Kombineer dit nou met ‘wit in Afrika’ en jy kan jou gehoor dronkslaan.

Ek het besef dat die mense nie so erg lief is vir vroeg opstaan nie. Die vroegste klasse soggens is eers 08:30, maar daar gaan gewoonlik nie veel voor 09:00 aan nie.

Ek het geleer dat die mense hier baie minder issues het. Maar dat hulle ook nie vir God het nie.

En ek het nou besef dat ek baie graag meer gereeld oor my ervarings hier wil skryf.



Advertisements

About anrezavdm

Ek is op hierdie stadium van my lewe steeds 'n student - en sal dit nie vir nou anders wil hê nie. Hierdie rooi kop van my is meestal ook maar 'n baie deurmekaar een, vol dinge wat ek nog wil doen, dinge wat ek bang is ek vergeet, dinge wat ek spyt is ek nie kan doen nie, maar...meestal met 'n stortvloed gedagtes waaruit ek probeer sin maak. Moet dus nie verwag om orde hier raak te lees nie. Ook nie mooi netjiese stories op 'n skinkbord nie. Wel...moet dus nie veel verwag nie, kyk maar net wat jy kry ;) (ek self sien uit om te sien wat dit gaan oplewer)
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to …2 maande later…

  1. Amori says:

    Dag Anna.

    Jou insig is vir my heerlik om te lees. Jy skryf baie waar goed waarmee ek beslis kan identifiseer. Ek kan wel nie wag om ‘n soortgelyke ervaring te he nie.

  2. Jacki says:

    Hey Anna!! Klink my dis ‘n baie meer leersame uitstappie as suiwer akademie. Ek wilgraag ‘n staaltjie met jou deel oor die hele “wit mense in Afrika” storie. Op een van ons koortoere in Oostenryk ry ons eenslag op ‘n trem in Linz. Mense vra toe natuurlik waar ons vandaan kom met ons vreemde taal, en toe ons sê ‘Suid Afrika’, toe kom die bekende “but you’re white”. Die een ou, Ebenezer, haak toe af en sê vir hulle dat ons ‘n albino koor is!! Die beste deel is, dat die ou gelyk het of hy die storie koop!!

  3. Linsen says:

    Wow, soveel dinge om te leer (en nog soveel wat voorlê). Ek stem saam dat die beste manier om ‘n stad te ervaar, ongetwyfeld is om net rond te loop. Min dinge kom naby daaraan om nuwe plekke te voet te ontdek en te sien.

    Ek hoop daar kom nog klomp nuwe goed op hierdie blog!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s