So, ek is in België

Ek en Rezel in Gent, toe sy die heel eerste naweek vir my kom kuier het.

En kan dit self nie behoorlik glo nie…

Snaaks hoe dit terselfdertyd so vreemd, maar reeds so tuis voel. En dit het ek besef toe ek na ons Frankryk uitstappie verlede naweek terug gekom het huis toe. Toe ek besef hoe ‘bekend’ hierdie nuwe stad reeds vir my is. Dat ek dit (soms) al waag om sonder my padkaart die huis te verlaat. Dat my voete eintlik al vanself die pad huistoe loop van die naaste stasie af. Toe ek besef dat ek al treinry in Europa uitgefigure het. Want…as ek mooi daaroor dink, was al hierdie goed voor 8 Februarie net idees. Of eintlik nog minder as idees, want mens kan jouself nie juis daarop voorberei nie. Nie juis nie.

Maar laat ek by die begin begin…

Mens dink jou kop sal besig wees wanneer jy jou ouers groet om vir 6 maande ver van die huis af te wees. Mens dink jy sal deurmekaar, opgewonde en baie bang gelyk wees. Snaaks, nadat ek hulle gegroet het, was my brein ‘n vakuum. Daar was net niks. (seker die gevolg van al die opbou van die avontuur die laaste ruk) En toe in die vlugtuig, met almal om my wat so gewoon en gemaklik lyk, het gedagtes stadigaan begin om tot my deur te dring. Die eerste een defnitief die vrou by die lughawe waarby ek moes incheck se gesig toe sy hoor ek gaan vir die eerste keer oorsee, 6 maande daar bly, terwyl ek niemand in die land ken nie. En toe onthou ek haar gesig toe ek sê dat die meisie saam met wie ek gaan bly, ek oor die internet ontmoet het. MAAR, terselfdertyd het ek ook onthou van die opstel wat ek in std. 5 geskryf het en wat my ma (baie toevallig) herontdek het, waarin ek gesê het dat dit my droom is om eendag oorsee te studeer, en dat ek vreeslik graag onder andere Nederland wil besoek. En ek besef net weer: hierdie is een groot voorreg, en dis niks minder as my verantwoordelikheid om die absolute meeste daarvan te maak nie. En so styg die BA vlug Johannesburg toe, waar ek vir die volgende paar uur op die lughawe gewag het…

Die oomblik toe ons in Amsterdam land, het vir my so onwerklik gevoel. Mens weet al maande dat jy presies hier gaan land, deur die lughawe gaan stap, gaan wag vir jou vlug Brussel toe…maar, wanneer dit gebeur dan voel jy so bietjie of jy in iemand anders se fliek speel. Onwerklik.

En so kom ek in Gent aan. Dis koud. Ek weet nie presies wat om te doen, of waar om te gaan nie. Maar ek vind dat die personeel in die treinstasies baie vriendelik is. My tas(se) is swaar, en ek verstaan weer hoekom mense jou aanraai om so min as moontlik saam te vat. Ek begin die pad stap na ‘n huis waarvan ek net die adres het. Klippaadjies is nie wielietasse se vriende nie. Ek moet sê, ek was nogals verlig toe ek wel ‘n deur sien by die adres wat ek so paar weke terug op die internet opgespoor het. En ek is nogals trots op myself dat ek wel die plek gekry het. Hierdie vreugde is egter van korte duur, want…nadat ek geklop het, maak niemand oop nie. Ek dwing myself om nie te veel te dink nie (hoewel ek reeds begin uitwerk het hoe lank dit my sou neem om na Rezel in Leiden te reis). Toe die deur na so 3 (wat soos baie meer gevoel het) minute oopgaan, verstaan ek skielik hoekom dit so lank gevat het. Die huisie is piepklein, maar op 3 verdiepings gebou. My kamer is gelukkig op die tweede, en so is ek en my 37kg bagasie toe vir oulaas saam teen die trappe op. Daardie oorweldigende gevoel wat ek ervaar het toe ek vir die eerste keer in kamer tot stilstand kom, sal my lank bybly. Ek wou so half vra ‘wat nou?’. Toe doen ek maar wat ek gewoonlik doen wanneer ek nie lekker weet wat om te doen nie: Gaan soek ‘n winkel om kos te koop.

Advertisements

About anrezavdm

Ek is op hierdie stadium van my lewe steeds 'n student - en sal dit nie vir nou anders wil hê nie. Hierdie rooi kop van my is meestal ook maar 'n baie deurmekaar een, vol dinge wat ek nog wil doen, dinge wat ek bang is ek vergeet, dinge wat ek spyt is ek nie kan doen nie, maar...meestal met 'n stortvloed gedagtes waaruit ek probeer sin maak. Moet dus nie verwag om orde hier raak te lees nie. Ook nie mooi netjiese stories op 'n skinkbord nie. Wel...moet dus nie veel verwag nie, kyk maar net wat jy kry ;) (ek self sien uit om te sien wat dit gaan oplewer)
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

One Response to So, ek is in België

  1. Linsen says:

    Ah, dit klink alles so nuut en opwindend. Well done dat jy so gemaklik jou eerste oorsee-gaan oorleef het 🙂

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s