Die vier Van der Merwe vroue en die Spaanse polisie.

Dis vandag presies 3 maande sedert ek in Gent arriveer het. So ‘n week of wat gelede het ek die ongelooflike voorreg gehad om al die vroue in my gesin hier te ontvang. Natuurlik sou ons die vader van die huis so graag by ons wou hê, maar om ‘n Karoo plaaskind op ‘n internasionale vlug te kry, is makliker gesê as gedaan. En hoogtevrees is ‘n realiteit. En wie is ek nou om onrealistiese vrese te bevraagteken. (enige een wat al saam met my op ‘n boot in Mosambiek was, sal verstaan)

Vreemd. Onwerklik. Opwindend. ‘n Aanpassing. Maar bowenal ‘n voorreg.

Andri en mamsie het ‘n dag voor ek by hulle aangesluit het, by Rezel in Leiden aangekom. Aanvanklik was dit geweldig vreemd. Asof 2 lewens eensklaps versmelt…  waar die vreemde, opwindende lewe in België kop-aan-kop bots met alles wat bekend en alles wat huis is. Die fisiese uitdagings het die botoon gevoer. Vier van ons saam in Rezel se (reeds beknopte, gelukkig skoon) kamer in ‘n studentehuis is ‘n reuse aanpassing, om die minste te sê. Voeg daarby 1xsnorker en 1xtandeknerser en jy het slapelose nagte. Letterlik. (ek gaan nou nie name noem nie, maar ons vermoed die probleem het uit S.A. aangekom) Dus, na ‘n nag van die

Marilyn retake

Ons help vir Marilyn om die nodigste toe te hou by die wasmuseum in Amsterdam.

 ‘snurkkonsert’ (met erkenning aan Vlaamse vriend Piet wat later die situasie bewoord het), het my eerste dag in Amsterdam saam met hulle iindidi ngeendidi fisiese uitdagings ingehou. Kom ek stel dit so: Nie die fiksheid, energie, ledemaatgebruik of ouderdom van ons groepie is normaal of eweredig versprei nie. En as julle enige iets van statistiek verstaan, sal julle besef hoe moeilik dit dan is om ‘n gemiddelde beweeg tempo te vind. Maar tussendeur verpligte rusposes het ons baie pret gehad. Ons het Anne Frank se huis besoek, poseer saam met die sterre in Madame Taussaud’s, kaas geproe soos mense wat nog nooit kos gehad het nie…en onsself weer die aand aan die snurkkonsert onderwerp. Die volgende ogggend vroeg (op my aanbeveling) het ons Keukenhof besoek, wat defnitief een van de hoogtepunte van die kuier was.

Bloemen!

Keukenhof - die plek waar blomme en fotograwe ontmoet

 Na 3 aande saam in Rezel se kamer, is ons span toe Gent toe…vir Belgiese sjokolade, ou geboue, spekuloos en aparte kamers vir die snurkkonsert en die gehoor. Hier het ek weer bewus geword daarvan dat verskeie mense verskeie behoeftes het wanneer dit daarop neerkom om ‘n nuwe stad te ontdek. So byvoorbeld kan ‘n historiese skildery met ‘n geheimsinnige agtergrond by een gesinslid presies dieselfde reaksie ontlok wat die lekkergoedwinkel ‘ollecke bollecke’ by ‘n ander kan doen. Vlaamse vriend Piet het ons die Sondag ‘n toer van die stad gegee, met geskiedenislesse vervleg in die alomteenwoordige verpligte rusposes.

Op die bekende brug in die stadsentrum, met Gent se kanaal en ou geboue in die agtergrond.

En natuurlik het ons middagete uit Vlaamse frietjes bestaan. Met mayonnaise…hoe dan anders. Dit was vir my heerlik om hulle die stad te wys waar ek nou na 3 maande al so tuis voel. Ons het selfs Sondagaand familie van ons vir ete in die stad gekry – wat ‘n aand om te onthou!

Na ons kuier in Gent, is ons 4 toe na die suide van België, naby die Duitse grens, om 2 aande in ‘n ‘sprokieskasteel’ te gaan slaap. Dit was sprokiesmooi, en ons het heerlik geslaap. Dit was lekker en goed om ‘n ander deel van die land ook te sien – nie net stede nie, maar ook ‘n kleiner plattelandse dorop, met die mooiste natuurskoon. Hier het ons vir ‘n wandeling gegaan,en die foto wat ek daarna geneem het, is my ‘n goeie voorbeeld van hoe kodak oomblikke verloop het: Die neutrale ma (wat hier bereidheid en posisie betref), Andri wat tande uitpak wanneer iemand ook al ‘n hand na hulle kamera uitstrek, en Rezel-Ik-ben-moe-Van der Merwe.

Na ons besoek aan die suide, is ons toe Barcelona toe vir 3 aande. En wat ‘n verrassing was hierdie stad nie, en defnitief een van my gunsteling plekke tot dusver. Die stad is ongelooflik, lewendig, die publieke vervoer is baie goed en billik, en ook is daar baie om te sien sonder dat jy enigsins hoef te betaal daarvoor. ONs eerste aand daar is dit dan ook nou ‘n belangrike sokkerwedstryd tussen Barcelona en Madrid. Ek was op die rekenaar in die hostel besig, en toe ek omkyk, het ek nogals lag gekry vir die toneeltjie wat homself afspeel: hier sit my liewe mamsie tussen ‘n jong Spaanse mans en sokker ‘kyk’. As sy nie kort voor die einde gevra het watter kleur Barcelona is nie, sou hulle ook waarskynlik gedink het dat sy aandag gegee het. Na Barcelona se oorwinning het ek en Andri bietjie deur die strate van  gewandel…met grootskaalse feesvieringe, Messi hemde, toeters, massas mense…en hier en daar sowaar ‘n verdwaalde vuvuzela. Wat ‘n ervaring.     

Die volende 2 dae is hoofsaaklik gevul deur Gaudi. Soveel mosaïek en asimmetriese argitektuur het ons in 2 dae gesien dat my kop letterlik gedraai het toe dit die kussing tref aan die einde van dag 2. Hier het die beweegtempo al aansienlik makliker as aan die begin gegaan. Die rede hiervoor is onseker…dis moontlik dat ons almal aangepas het by een gemeenskaplik ritme, dit kan wees dat mamsie skelm baie sterk pynpille vir haar voete gevat het, dit kan aan Barcelona se uitstekende metro toegeskryf word…of die fiksheid van die groep het ‘n ewewig bereik. All in all, het ons tussen olimpiese geboue, roltrappe, nog Gaudi, sangria, winkels en ‘n Spaanse dans konsert ongelooflik baie pret gehad. Maar…

Die toneel wat Vrydagaand in Barcelona se metro en daarna die polisiestasie afgespeel het, is defnitief die een wat my sal bybly: Soos ons uit die metro stap, stamp ‘n tengerige mannetjie Andri van voor. Hy het so ‘n wilde kyk in sy oë (die tipe wat tydens studente eksamens geassosieer word met ‘n oordosis bioplus), en ek kon onmiddellik sien dat iets nie pluis is nie. Wie presies wat gedoen het, en die chronologie van die gebeure, is nou nog onduidelik. Ek weet net ek het Andri se naam geroep (ook omdat ons al baie teen pickpocketers gewaarsku is), sy het besef dat haar handsak oop is oombliklik besef dat haar kamera en beursie weg is. Voor ek myself kon kry, het ek toe die skralerige Spanjaard aan die pols beet. En voor hy hom kon kry, is hy in ‘n hoekie ingedruk, en word hy omsingel deur 4 groterig geboude Suid Afrikaanse vroue. Hy moes besef het sy einde is naby, want hy het gou gewys na die plek waar die beursie (minus die 35 euro) toe lê. Of miskien het hy besef dat hy ons onderskat het, toe Rezel as deel van haar preek vir hom sê: ‘We are from South Africa, we know criminals’. Ek het redelik konstant ‘police’ uitgeroep, sodat iemand ons kon help. Ook was ek bang om die mensmuur te verlaat, want ons 4 het soos ‘n span saamgewerk om die klein mannetjie net daar vasgekeer te hou. Minute later het ons die Spaanse metropolisie daar, en bevind ons onsself toe nou in die naaste polisikantoor…saam met die tenger sakkeroller. Dus: Vrydagaand, geen magic fountain nie, maar toe wel die Spaanse polisiestasie. Sien, dinge werk soms anders uit. Maar…terwyl ons vir die ongemaklik aantreklike Spaanse polisieman oor en oor in charades-styl uitbeeld presies hoe die rooftog plaasgevind het, het ons pret gehad. Niemand het iemand anders kwalik geneem vir die tyd wat ons daar spandeer het nie. Niemand het ongeduldig geraak as hulle oor en oor moes beskryf wat gebeur het nie. En net daar…na verskeie overpriced toeriste aktiwiteite die laaste week, het ons 4 gelag soos ons lanklaas gelag het. Vir onsself. Vir die polisiman wat probeer Engels praat…vir hom omdat hy gedink het die groen ‘khaki’ baadjie is ‘n ‘cookie’ kleur, en ook omdat ons ten minste een sakkeroller die binnekant van die tjoekie vir een aand gewys het. En ek het die grootste waardering vir ons saamwees gekry. En trots gevoel op my gesin omdat hulle selfs in die polisiestasie kan kuier.

Europa is great. Saamwees is beter.

ns. die aand later toe Andri haar kamera in haar rugsak ontdek, is ons 4 vir ‘n minuut tot stilte gedwing…nadat ons klaar begin afskeid neem het van al die foto’s wat sodanig ‘verloor’ het. Maar ons was nie kwaad nie. Ons was saam. En dit was ons laaste aand saam in Europa vir nou.

Advertisements

About anrezavdm

Ek is op hierdie stadium van my lewe steeds 'n student - en sal dit nie vir nou anders wil hê nie. Hierdie rooi kop van my is meestal ook maar 'n baie deurmekaar een, vol dinge wat ek nog wil doen, dinge wat ek bang is ek vergeet, dinge wat ek spyt is ek nie kan doen nie, maar...meestal met 'n stortvloed gedagtes waaruit ek probeer sin maak. Moet dus nie verwag om orde hier raak te lees nie. Ook nie mooi netjiese stories op 'n skinkbord nie. Wel...moet dus nie veel verwag nie, kyk maar net wat jy kry ;) (ek self sien uit om te sien wat dit gaan oplewer)
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

4 Responses to Die vier Van der Merwe vroue en die Spaanse polisie.

  1. Suzaan says:

    ek dink nie daar is n beter bewys as hierdie post vir hoekom ek so graag wou he jy moet blog nie. dankie! jul is ‘n besonderse klomp vrouens bymekaar, bly dat jul dit kon ervaar.

  2. Linsen says:

    Dit klink inderdaad na ‘n ongelooflike ervaring en voorreg om saam met familie so te kan toer! En goeie werk met die crime-fighting nog boonop 🙂

  3. Nelmari Kemp says:

    Oo, wat ‘n leesfees! Ek het veral die visuele stimuli (in besonder die matriarg en haar telg in die polisiekantoor) geniet! Doe so voort!!!

  4. Karin Verwey says:

    Anreza,jy het my dag gemaak met jou beskrywings.Oe ek geniet jou”prentjies” so baie.Mooi bly.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s