Nooiensvlug

Op ‘n grysgrou namiddag in Februarie het ek op Gent-Sint Pieters stasie gearriveer vir een van die grootste avonture nog. Sonder ‘n idee wat op my wag, maar met ‘n goeie kaart van die stad, baie opgewondenheid en nog meer bagasie het ek Gent begroet, die stad wat onlangs deur die lonely planet as een van Europa se bes bewaarde geheime beskou is. Vandag, net minder as 5 maande later, het iemand wat ek teen hierdie tyd ‘n baie goeie vriend kan noem, saam met my die reeds bekende roete lughawe toe gevat, om Europa (vir eers) vaarwel te roep. En om teks te gee aan dit wat tussen hierdie 2 datums gebeur het, is nie heeltemal so maklik soos wat ek gehoop het dit gaan wees nie.

Verwagtings gaan ‘n mens maar altyd hê, bewustelik…of onbewustelik. Maak nie saak hoe gevaarlik dit is om juis met hierdie tipe gedagtes om te gaan nie. En, as ek nou moet eerlik wees met myself, het hierdie laaste 5 maande nie heeltemal opgelewer wat ek gedink het dit sou nie. Maar meer. ‘n Rede hiervoor sou wees omdat my verwagtings bloot so beperk was…’n byproduk van my verwysingsraamwerk wat tot baie onlangs nog geen konsep van oorsese reise ingehou het nie. En soos ek nou die dag lees deur die kaartjie wat my ouers vir my geskryf het kort voor my koms, kon ek nie anders as om te wonder oor ons (ingebore?) evaluasiedrang nie. Nee, ek het toe nie die taal baasgeraak soos my ma my so mooi sterkte toegewens het nie. Nee, ek en my oorspronklike huismaat het nie boesemvriendinne geword nie, inteendeel, ek het net langer as ‘n maand daar gebly. En nee, die akademiese ervaring was nie lewensveranderend nie, my tesis is nie klaar geskryf nie, en niemand het vir my werk op ‘n skinkbord aangebied nie.

Ek het ook nie uitruilstudente uit alle uithoeke van die wêreld ontmoet nie. Maar ek het vir Gabija ontmoet…’n meisie uit Lithuania, wat haar PhD (in regte) in Gent kom klaarmaak het. En by wie ek (weer!) geleer het dat jy nie soortgelyke agtergronde, idees of kulture moet hê om ‘n sinvolle vriendskap te maak werk nie. En saam met wie ek vele goeie biere in van Gent se vele

Gabija weet ook hoe om 'n plan te maak...

bekende kroeë gedrink het. En saam met wie ek vele kere uit my maag uit gelag het vir die snaakse Belgiese (veral) mans. En saam met wie ek vele kere op ons geel fietse deur die strate van Gent gery het…in die reën. En wie my skaars ‘n maand nadat sy my ontmoet het, in haar bed laat slaap het nadat my landlady my uitgeskop het. En wie my ook geleer het dat mens partykeer nie moet dink nie, maar net doodeenvoudig moet doen (met spesifieke verwysing na die voltooing van my proefskrif). Maar ek is veral dankbaar dat ek so tydjie terug die voorreg gehad het om vir haar in Vilnius, haar tuisstad, te kon gaan kuier. En ook dat ek kon weet dat hierdie vriendskap dalk in Gent ontstaan het, maar nie net tot Gent beperk is nie.

Ek het ook nie ‘n oorvloed Vlaamse vriende gemaak by wie ek weke aaneen in Gent sal kan bly en voor terugkom nie. Maar ek het vir Piet ontmoet…’n Gentenaar wat my in hierdie tyd meer van die stad gewys het as wat baie locals in hulle leeftyd al gesien het. ‘n Vriend wat my geleer het van Vlaamse kuns, stadsmuseums, dat mens

Besig om te doen waarin hy goed is: Verduidelik Belgiese politiek aan toeriste

altyd ‘n nuwe bier moet probeer en nie net bloot by jou gunstelinge moet vashaak nie. En wie aanvanklik ‘n verbete poging aangewend het om my die basis van die taal te leer. En wat iets van die Vlaamse kultuur oorgedra het, met kombinasies van plaaslike opera, Belgiese flieks en ‘n keur van Belgiese jenewers. Hy het my ook geleer dat mens altyd ‘n oomblik moet stilstaan en dink, voordat jy paniekerig begin raak wanneer iets soek is. En ek het besef dat 30’s something ook maar net ‘n uitbreiding van 20’s something is. En dis net mooi hier waar ek uitgedaag is om te dink oor hoe konserwatief ek is, dink, en funksioneer (my kookstyl ook nogals, onder andere). En ook het Piet vir my ‘n regte egte Vlaamse familiehuis en familie etes gewys (maar meer hieroor in ‘n ander inskrywing). En wat ek sonder iemand sou maak wat die (nogals ingewikkelde) bussisteem soos die palm van sy hand ken, is ‘n ope vraag. En hy het my geleer dat mens maar versigtig moet wees om die belgiese spoorweg (NMBS) te vertrou. En natuurlik het ‘n mens ‘n local nodig om jou aan te moedig om al die kos te probeer wat spesiaal en tradisioneel aan die omgewing is. En om jou in te lig oor al die aktiwiteite wat die stad bied, vir ingeval daar ‘n oop naweek is. En om jou elke keer na ‘n kuierplek te vat waar jy nog nie was nie. En om vir jou te sê dat mens soms net eenvoudig in die stad moet wèès…in die strate wandel, luister na die gelag by restaurante, en om ook net die atmosfeer in te drink.

Ek het ook nie massas Suid-Afrikaners ontmoet saam met wie ek elke naweek gebraai het nie. Maar ek het vir Alismi ontmoet…’n Au pair uit Citrusdal wat sommer gou-gou ‘n baie goeie vriendin geword het. Met wie ek vir ure in Afrikaans kon praat oor die Belge, hulle

Ek en Alismi in Brussels

Ek en Alismi in Brussels

gewoontes, en hoe hulle verskil. En wie se huis sommer baie gou ook soos my huis gevoel het. Want, ten spyte van die opwinding, nuwe mense en nuwe uitdagings, het mens ‘n stukkie huis nodig orals waar jy gaan. En Alismi was daardie stukkie huis…wie presies verstaan hoekom jy somtyds uitbars van die lag, wanneer jy sukkel om vir die Belge te verduidelik hoekom jy dink dis snaaks dat hulle ‘n strand het, sonder die see. Iemand saam met wie jy net kan ‘wees’, sonder dat daar altyd ‘n gesprek betrokke is. En natuurlik, iemand saam met wie ek uitgegaan het soos ek in my eerste jaar nie eers uitgegaan het nie. En wat my geleer het om partytjieskoene te dra. En wat nooit moeg geraak het om haar kar te gebruik wanneer dit nodig was nie, want openbare vervoer is nie die maklikste opsie wanneer ‘n mens trek nie…en ek het ook nie net een keer getrek nie.

Alismi, Piet & Gabija…julle was Gent. Die atmosfeer op die Graslei en in die sentrum na sononder ook. Bier en frietjies in die son ook. Asook fietsry met hakskoene tussen die tremspore, Sint-Baafs se toring as baken, 1 euro ontbyt by Hema en die mooiste skoene wat mens kan koop wat by ‘n verskeidenheid winkels aangebied word. Die mooiste parke was ook Gent. Sonsondergange oor

Saam met 2 van my gunsteling mense, besig met een van my gunsteling aktiwiteite

watersportbaan terwyl mense draf was ook Gent, asook die groot verskeidenheid goed gerestoureerde historiese geboue. Pieknkiek op die rooi kombers was ook Gent. En ‘n hele paar aande se saamkuier om (meestal slegte) Franse rooiwyn.  Die warmste lente in iets soos 100 jaar was ook ‘n belangrike deel van my ervaring. Chips en lemoensap op die trein was ook Gent. Maar veral julle, julle was Gent. En dis julle wat ek gaan onthou wanneer ek terugdink.

En dan het ek nog nie eers begin praat van die goeie tye en ongelooflike ervarings wat ek buite die grense van België gehad het nie. Voor Februarie het ek ‘n Namibiese (wat ons almal weet nie eintlik ‘n ander land is nie) en Mosambiekse stempel in my paspoort gehad. Dit was dit. Na dese het ek ook dele van Nederland, Frankryk, Spanje, Italië, Ierland, Noorweë en Lithuania gesien. Ek, Rezel en Bibi het die beste gesien wat Parys het om te bied. Ek en Rezel het die strate van Florance platgeloop, heeltemal te veel gelato geeët, en leer gekoop. Saam met my ma en altwee susters het ons Barcelona verken. Ierland saam met Suz was groen, nat en pragtig. Noorweë was werk, maar die blitsbesoek aan Lithuania so intens dat dit voel of ek vir ‘n week daar was. En ook, tussendeur dit alles, kon Suzaan vir 2 weke kom kuier. Die beste vriende en die beste tye in een van die beste stede in die wêreld…wat meer kan ‘n mens vra.

En ek besef hoe geweldig gou ek gewoond geraak het aan alles wat aanvanklik so vreemd was. (ek kon wel nooit gewoond raak aan die dun snye winkelbrood nie, ek het maar ongesnydes gekoop en self die lem ingelê.) Ek het later nie eers meer opgelet as mense fietsry en op hulle fone praat gelyk nie – en dit self ook ‘n keer of wat prober. Die vroue met die mooi skoene het later die norm geword. Bier het nie so duur gevoel soos aanvanklik nie. Dit was later ook nie vir my vreemd dat daar doodeenvoudig altyd krag is nie (beurtkrag is ‘n realiteit). Kuns in al sy vorms wat op onverwagte plekke opduik het ook vir my so normaal geword. Asook die mooiste historiese geboue, wat jaaaare voor 1652 opgerig is. En ek het ook nie meer gelag vir die publieke piepieplekke (vir mans, natuurlik) wat strategies geplaas in die stad voorkom nie. Ek wens so half ek kon iets van die sensitiwiteit en oorweldiging wat die nuutheid inhou, oorhou.

Gister, op my laaste dag in Gent, toe Alismi my gaan aflaai speel die lirieke van ‘Hollywood Hills’ oor die radio. Ek moes hard sluk om die trane in te hou, en ek dink dis nogals gepas, corny soos dit is.

‘No I don’t want to leave but I must keep moving ahead
Cause my life belongs to the other side
Behind the great oceans’ waves

I take a part of you with me now and you won’t get it back
And a part of me will stay here
Bye bye hollywood hills,
I’m gonna miss you whereever I go
I’m gonna come back to walk these streets again
Remember that we had fun together’

Toe ek vanaand by die huis kom voel dit of ek nooit weg was nie. Dit voel of ek Gent gedroom het. (gelukkig vir die klomp foto’s wat ek geneem het en skoene wat ek gekoop het om my die teendeel te bewys!). En ek is eerlikwaar so bang dat daar ‘n tyd gaan kom wat ek nie meer aan Gent gaan dink nie. Maar nog banger as wat ek daarvoor is, is ek dat ek elke liewe dag aan Gent gaan terugdink…en hoop om weer een oggend die son oor Brussels te sien opkom…

Advertisements

About anrezavdm

Ek is op hierdie stadium van my lewe steeds 'n student - en sal dit nie vir nou anders wil hê nie. Hierdie rooi kop van my is meestal ook maar 'n baie deurmekaar een, vol dinge wat ek nog wil doen, dinge wat ek bang is ek vergeet, dinge wat ek spyt is ek nie kan doen nie, maar...meestal met 'n stortvloed gedagtes waaruit ek probeer sin maak. Moet dus nie verwag om orde hier raak te lees nie. Ook nie mooi netjiese stories op 'n skinkbord nie. Wel...moet dus nie veel verwag nie, kyk maar net wat jy kry ;) (ek self sien uit om te sien wat dit gaan oplewer)
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

2 Responses to Nooiensvlug

  1. Linsen says:

    Wow Anna, dit klink na ‘n absoluut ongelooflike ervaring! Ek kannie wag om jou te sien en te hoor van dit alles nie!
    Linsen

  2. ilana says:

    Sjoe!! Ek het amper getjank!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s